Thursday, 25 February 2010

Dis nie wat jy doen nie......

Hallo
Hoop almal met skoolgaande kinders het 'n lekker 'halfterm' gehad. Baie dankie aan Ds Christo Benadè wat hierdie keer se blog vir ons geskryf het.

Suksesvolle Ouerskap - Dit is nie wat jy doen nie, maar wie jy is!
Hoe beïnvloed ek my kinders om ‘n lewe te lei wat vir hulle sinvol is en waarin hulle hul potensiaal bereik? Dit is ‘n vraag waarmee elke ouer hom/haar gedurig besig hou. Soos die kinders ouer word, word hierdie vraag meer intens en vermeerder die nagte se wakker lê. Gereeld moet ‘n predikant/sielkundiges hoor dat ‘n ouer wil hê dat hy met die kinders moet “praat” –“Ons kan nie meer met Karin huishou nie”. Die dilemma is dat die dominee se gepraat nie veel help nie, omdat die pratery gewoonlik te laat is.

Nou waar begin ons as ouers? Dit is ongelukkig so dat daar dinge in die lewe is waarteen ons ons kinders nie kan beskerm nie – al wil ons ook hoe graag. Hulle gaan op ‘n dag van die kleuterskool kom en ons vertel Jannie sê “@#$&#@ jou!” Dit is sulke tye wat ons as ouers na mekaar kyk en sukkel om ons asem terug te kry, en dan nie weet of ons die kind, Jannie, die onderwyser, skoolhoof, minister van onderwys of dalk al ses moet wurg nie. Later in die lewe gaan hulle die kans kry om skelm ‘n rokie te maak(het ons almal nie maar ‘n geleentheid gekry nie?), of daar gaan Vrydagaand ‘n partytjie wees by ‘n meisie se huis waar ons bloedjie blootgestel word aan dinge wat Madonna (nie die Rooms-Katolieke een nie) sal laat bloos. Wat dan? Sluit ons hulle in die huis toe, maak ons hulle bang met al die dinge wat jou in die warmste plek in die hel sal laat brand?

Dalk nie, want sien daar is dinge waaroor ons beheer het en dan is daar dinge waaroor ons nie beheer het nie. Ouers is altyd half gesteurd met my as hulle so bekommerd is oor hulle kinders en ek sê vir hulle dat hulle nie moet bekommer nie want die kinders sal net doen wat HULLE gedoen het!
Hoe sleg dit ookal is om te hoor, is dit ‘n feit dat ons nie ons kinders of enige ander persoon se gedrag kan bepaal nie. Ons kan alleen ons EIE gedrag bepaal en dit is hoe ver ons invloed strek.

Dít is dan juis ook waar ons invloed lê - in ons eie optrede. Die invloed wat ons uitoefen lê dan in ons eie hande, in ons eie gedrag. Dissipline begin in die eerste plek by onsself. As ons nie respek vir gesag het nie gaan ons ook geen gesag afdwing nie. As ons sleg praat van die gesagsfigure in die samelewing, hoe op dees aarde sal ons kinders respek hê vir hulle? As ons kinders heeldag hoor hoe sleg is die polisieman, onderwyser, ouderling, dominee of die regering, hoe gaan ons kinders respek hê vir hulle?

As dit ons uitgangspunt is dat dit by onsself begin, is daar heelwat wat ons kan doen. Hier volg ‘n paar gewoontes wat ons as ouers kan aanleer om ‘n positiewe invloed op ons kinders te hê:

1. Probeer verstaan.
Stephen Covey sê tereg dat “ we must first try to understand and maybe then to be understood.” Dit is ongelukkig so dat ons graag gehoor wil word, maar dat ons sukkel om te hoor. Dit is so dat mense eers bereid is om te luister as hulle voel daar word na húlle geluister en dat hulle verstaan word. Om te luister beteken nie dat ons noodwendig saamstem nie, maar dat ons ten minste probeer verstaan.

2. Belê in jou verhoudings.
Die grootste fout wat ons kan maak in ons verhouding met ons kinders, of enige ander verhouding, is om te dink dat die verhouding self sal ontwikkel en groei. Dit gebeur nie. As jy net geld uit jou bankrekening onttrek en nie deponeer nie, gaan jy kort voor lank teleurgesteld voor die autobank staan met die boodskap ”GEEN FONDSE BESKIKBAAR”. In ons verhoudings moet ons ook gedurig beleggings maak sodat, as ons moet onttrek, daar iets is om te onttrek. As ons ons kinders net straf(wat soms nodig is) en negatief met hulle praat, onttrek ons uit ons emosionele bankrekening. Dit is ook noodsaaklik dat ons gereeld deposito’s sal maak in hierdie rekening. Ons maak deposito’s deur tyd saam te spandeer, deur hulle te komplimenteer, vir hulle te sê hoe lief ons vir hulle is , ens. Hoe lyk die bankrekening in jou verhoudings. As jy te lank in die rooi is veroorsaak dit onherstelbare skade aan die verhouding.

3. Maak beloftes en hou beloftes.
“All broken relationships can be traced back to broken agreements” (Canfield, Hansen & Hewitt) Dit is veral waar in ouer-kind verhoudings. ‘n Belangrike wyse waarop deposito’s gemaak word in ons verhoudings, is deur beloftes te hou. Vertroue word gebou, as ons kinders weet ons ag hulle belangrik genoeg om ons beloftes na te kom. Oor tyd bou dit vertroue en versterk die band tussen ons.

4. Waardeer dit wat jou kinders doen.
William James sê op ‘n stadium dat : “The deepest principle in human nature is the craving to be appreciated”. Hierdie is so ‘n basiese beginsel, maar hoe baie vergeet ons dit. Dit is baie moeilik en selfs onmoontlik om ‘n slegte verhouding te hê met iemand wat jou gereeld opreg komplimenteer. Dit is ook een van die mees basiese behoeftes van ons kinders. As hulle nie respek en waardering kry by ons as ouers nie, sal hulle dit op ander plekke soek, plekke wat gewoonlik nie baie gesond is nie. Dit is ongelukkig so dat “People are born to be a success, but conditioned to be a failure.” As kinders te veel hoor dat hulle stout en dom en ongehoorsaam is begin hulle dit glo. ‘n Ouer is die grootse bron van kondisionering in kinders se lewens. Kom ons gebruik hierdie posisie met groot sorg en verantwoordelikheid.

5. Erken jou foute en maak verskoning.
Die vyfde en laaste gewoonte wat ons in enige verhouding kan aanleer is om ons foute te erken en verskoning te vra. Ons leef met die wanpersepsie dat ons kinders hulle respek vir ons sal verloor as hulle moet weet ons maak ook foute. ‘HALLO, ENGEL GABRIEL?’ Nee, anders as die goeie engel Gabriel maak ons almal maar foute. Ons kinders kan juis daaruit iets leer, dat dit normaal is en dat ons die skade kan herstel.
Die belangrikste is om te onthou dat ‘n goeie verhouding, maar by onsself begin. As jy ‘n beter kind wil hê, wees ‘n beter ouer, as jy ‘n beter vrou wil hê, wees ‘n beter man en as jy ‘n beter man wil hê, wees ‘n beter vrou. ‘n Ma bring op ‘n dag haar seun wat baie oorgewig is na Mahatma Gandhi om haar raad te gee oor die seun se hoë suiker gebruik. Gandhi se reaksie was dat sy oor drie weke weer terug moet kom. Na drie weke kom die vrou terug en Gandhi sê vir die kind: “hou op suiker gebruik”. Die vrou was afgehaal en vra aan Gandhi hoekom kon hy dit nie maar drie weke gelede vir die kind dit gesê het nie. Sy antwoord was: “Drie weke gelede het ek nog self suiker gebruik”.

Christo R. Benadè

Bronne geraadpleeg en verdere leeswerk.
Stephen Covey. The seven habits of highly effective families.