Hallo.
Ek gaan nie eers probeer verduidelik nie, ek vra net onverskoning vir die lang stilte. Ek het soveel goeie voornemens gehad.....En dis dan juis die tema vir hierdie keer se blog : Goeie voornemens!
Laas Sondag bied ek Kinderkerk aan vir die Year1/2 groepie (5-7 jaar oud). Ons les handel oor God se belofte aan Abraham en dat God nooit jok nie. Ek begin die sessie met 'n retoriese vraag: 'Het iemand al ooit iets vir julle belowe en dit dan nie gedoen nie? Dis nie lekker nie nê.' Ek skep asem om verder te praat, maar voor ek iets kan sê, vlieg 'n klomp handjies in die lug, (duidelik is hierdie bloedjies almal al op skool en geen dissipline probleme hier nie!). Elkeen te gretig om hul storie van terleurstelling met die klas en my te deel. Dit het omtrent herorganisering gekos om met die Bybellessie te kon voortgaan. Dit het egter iets in my geroer. Jy sien die persoon/persone wat elke keer betrokke was by die kinders se teleurstelling was.........jy en ek, hul ouers. 'My pa het gesê ons gaan see toe gaan'; 'My ma het belowe ons sal......'.
En ek besef dat ek net so skuldig is. Ons sê so maklik iets om bevrediging vir daardie oomblik te bewerkstellig....'Ja, ons kan môre parkie toe gaan'; 'Ja, jy kan dit of dat....'; 'Ons kan môre....'. Die goeie voornemens is daar, soos ook by my met hierdie blog, maar uiteindelik voer ons nie die beloofde/beplande aksie uit nie en dit veroorsaak terleurstelling, en in herhaalde en erge gevalle wantroue by die persone naby ons, dikwels ons kinders. Dit veroorsaak ook skuldgevoelens by ons.
Ek het Joyce Meyer een keer hoor sê dat goeie voornemns erger is as om nie voornemens te hê nie. Die probleem met goeie voornemens is dat dit ons tydelik laat beter voel, ons beplan mos om hierdie of daardie goeie ding te doen. Dit is egter nog nie die aksie nie. Ons sus onsself dat ons iets gaan doen, maar doen dit nie.
Moet nou asseblief nie jouself oor die kop gaan slaan omdat dit nou die 1 Februarie is en al jou goeie voornemens vir 2010 al lankal vergete is nie. As mense faal ons dikwels. Onthou net dat ons krag uit 'n onuitputbare Bron kan kry en ook die troos dat ons soos die Samaritaanse vrou by die put(Joh 4) kan kom soos ons is, en dan verander word.
Wees dalk net meer bedag op wat by jou mond uitkom as dit by goeie voornemens en jou kinders kom....
Ek weet ek gaan vir die volgende paar weke seker maak dat ek my voornemens minstens probeer uitvoer - en die skryf van die blogg is waar ek gaan begin.......
Jesusliefde
Tot volgende keer
Sxx
Sunday, 31 January 2010
Subscribe to:
Posts (Atom)